Login/Register
TuisbladBessingerFotosGenealogiePetzerSkakels

Prinse van Serendib /Engela Linde-van Rooyen

Hier volg die inleiding...


 

Prinse van Serendib - Deel 1

deur  Engela Linde-van Rooyen

Ek plaas hierdie artikel omdat ek so lekker daaraan gelees het.  Met erkennig aan Engela Linde-van Rooyen en Martie du Toit

ďMet erkenning aan Familia, Volume 42 2005 Nommer 3, Kwartaalblad van die Genealogiese Genootskap van Suid-AfrikaĒ

ďWith acknowledgement to Familia, Volume 42 2005 Number 3, Quarterly Journal of the Genealogical Society of South AfricaĒ

Drie Prinse van Serendib, so lui die Arabiese sprokie, het op reis gegaan - en allengs raak hulle vasgevang in 'n reeks toevallige ontdekkings, ver bo hulle verwating. Serendipity, is die westerse woord wat Horace Walpole hieruit skep. Volgens my onlangse belewenis skyn daar 'n treffende sinoniem voor te wees: Genealogie.

Op Donderdag 7 Julie 2005 nader ek vryskutnavorser Martie du Toit met die versoek dat sy meer moet help uitvind oor my oupagrootjie. In my outobiografiese "Met 'n eie Siekspens" het ek geskryf dat my pa se mense verborge bly " in die sandloper- sifsels van vergetelheid."  In GISA se lywige lys, op die voorlaaste bladsy, verskyn Reynier van Rooyen as "ongekoppel". Daar kon net sowel gestaan het: cul de sac. My pa-hulle het nooit van hierdie oupa en ouma gepraat nie. "Hulle moes baie oud gewees het, of al dood, toe ek my verstand gekry het," reken my enigste tante wat toe (1994) nog gelewe het.

Op die enkele kiekie wat ek wonderbaarlik by 'n ouer niggie gekry het, lyk oupagrootjie na 'n wilderige mannetjie, met oogwitte wat in die kamera se rigting glimp. Grootoumatjie lyk versuf, "moe geleefd", hande leeg omgedop in haar smal skoot. Haar naam, dit is ten minste bekend, was Regina Maria Basson. Tussen hulle staan 'n meisiekindjie. Praat, kind, sÍ iets.... julle het tog saam awendbrood om die lamplig geŽet as jou pa van die bokkraal af inkom, die wind het teen julle houtvenstertjie gedruk en in jul skoorsteen gesuis terwyl sy stem dreun en jou ma diep sugte slaak....

Maar die verlede swyg by alle woorde verby. En daarom kom ek met een swak foto en twee leŽ name by 'n genealoog aanklop. Ek wil weet hoe het grootjie se pad vanuit die Kaap geloop na die dorre landskap van die afgeleŽ Noordweste? My voormense was eindelose swerwers, soos die meeste uitgeboerdes van daardie tyd. My pa-hulle self het op die trekpad grootgeword. Dis van hulle soort wat Deneys Reitz in sy Commando skryf:  We moved north through country thinly occupied by Nomad Boers (Trek Boers), who spend their lives going from ons well to another with their flocks, like the old peoples in the Bible.

Veral wil ek weet : Wie was my grootouers? En hoeveel geslagte het verloop tussen Reynier en stamvader Cornelis? Ironies genoeg, weet ek van my grootjie minder as van die verre voorsaat Cornelis, meulenaarsseun uit Gorinchem (Gorkum) in Nederland. Sy ouers was Reinier van Rooyen en Fijke Vermeulen, en hy het in 1713 as 18-jarige adelbors op die skip Middelwoud na die Kaap geklim. Hier trou hy met Jacomijntje Gerritz van Deventer, deur wie se bloed die porforie-geen aan die Van Rooyens oorgedra word.  Van hierdie feite, ten minste, is ek doodseker. Ek kom selfs, deur middel van Gorinchem se Stadsargief, in besit van 'n afskrif van die handgeskrewe 300 jaar oue testament van voormoeder Fijke - onderteken met 'n stewige kruis, asof die gansveerpen 'n slagtersmes is. Tydens 'n besoek aan Gorinchem bring ek 'n flessie sanderige bleke grond saam, waarvan ek 'n handvol strooi op die doodskis van my broer. Dit voel gepas. Niks kan immers troos soos wat bloed kan troos nie.

Ek leer van relevante kodes en afkortings. Martie spring aan die werk met NAAIRS- soektog en kry die volgende boedeldokument wat sy in die argief naslaan: MOOC 6/9/390 ref 1861 Van Rooi Regina Maria nŤe Basson Death Notice 1899. As ek die Reynier Jacobus (Johannes) invoer, kry ek derduisende deurmekaarspulle van ander vanne. Sy lyn vereers nog in 'n doodloopstraat, tensy ons sy ouers se name op sy eie SK kan vind. Maar ons weet darem nou haar ouers se name. Ons kan dalk die SA Genealogie Poslys die probleem stel en kyk of 'n medegener kan help. Die ernstige genealoŽ hou van sulk uitdagings.

So maak die warm, polsende wÍreld waar een se suigeling almal se grootmaakkind word. Nie met dooies word gewerk nie, maar met opgestanes, lewend gehou deur die hunkering van 'n nasaat. Diep in ons bloed, met onrus en met trots, roer die bloed van die gewesenes.

Grootjie Reynier se SK lig nie die sluier oor wie sy ouers was nie. Maar ek bestuur dit nogtans met bewoŽnheid, druk dit af, raam dit, hang dit teen my mure. Ek wonder: Waarom het die gekrap in die vergange gebeentes ,n positiewe uitwerking? Waarom voel ek nie nihilisties en verganklik nie, maar positief en opgewek? Is dit omrede hulle volgens hul belewenis elk 'n beduidende plek hier op aarde geken - en volgestaan -het? Hoe ook al, ek kook skaapvleis sodat my huis ook soos hulle s'n kan ruik. Die boeekombuise het altyd na slagding geruik.

Dit val my op dat grootjie Regina Maria in haar SK vermeld word as "sheep farmer", met 'n nalatenskap van 450 skape, agt donkies, wa en kar. Dus was sy nie die gedweŽ ou mensie wat die foto te kenne gee nie. 'n Verdere serendipity is dat haar stamvader (Arnoldes Willemsz Basson) op 15.2.1669 in Kaapstad trou met Angela van Bengale, vrygestelde slavin. Reken net: nasaat van die gevierde Engela van Bengale!

Maar die swaar, swygende gaping van byna een eeu tussen grootjie Reynier en stamvader Cornelis is nog met geen aks verklein nie.

Dan , op 27 Julie om 14:11, 'n milde winterdag in ons swoel streek noord van die Magalies, sit ek en my man in 'n koffiewinkel toe 'n SMS van Martie soos 'n piouter trekswael in my handpalm kom neerstryk: Bly & sad! Nuwe stamvader! Anthonius van R * Holland oorlede 5 November 1839 Zeekoevallei (35jr) X Elsje Sophia Visser. b1 dus Reynier * 26 April 1834 ~ 5 Oktober 1834 Clanwilliam. b2 Gert Jac Fred * 1838. As so, sal verder in Holl opvolg moet word. Visser-voormoeder spook nog dof. Doopinskrywing by GISA was sleutel.

My enigste logiese respons: Verbyster. Kan nie wees, wat van venoeming? Want grootjie se oudste seun, so weet ons reeds, was Willem. Martie antwoord: Reynier maar 5 jaar toe Anthonius jonk oorlede as "pauper". Ella Sophia (Reynier se enigste dogter) waarskynlik na ouma Elsje Sophia Visser vernoem. Gaan SK soek.

Ek huil in my filterkoffie. Nie letterlik nie. Ook nie graftrane nie, eerder bruidstrane. Asof ek 'n oudnuwe bruidegom tegemoet loop, in die persoon van 'n brandarm, onbekende stamvader. Sommer net daar begin tik ek SMS's aan my meelewende sibbes. My suster antwoord: Verstom om te hoor Cornelis dalk nie oertata. Voel of ons hom wegsmyt soos bedorwe bokooie.



Prinse van Serendib - Deel 2

Tuis klap ek die skootrekenaar oop vir 'n lament wat Martie sal inwag as sy van Stellenbosch af tuiskom: Ag wee my, dan was stamvader nie die meulenaarseun nie.. Ook nie die een wat porfirie in die gene gepalnt het nie. En die Gorkum-grond op my broer se kis.....allie tyd verkeerde grond? Ek voel soos 'n kind wat op sy oudag moet uitvind hy is eintlik aangenome. Sal maar eers hoor wat jy te sÍ het. Ek luister solank na "Wees stil, my siel" uit Finlandia van Sibelius.

Eindelik haar epostel: Ja, hoe troos 'k? Dis die risiko wat mens loop as jy in boeke van die voorvaders krap. Daardie dag toe ek met my oupagrootjie Van Heerden se SK in die hand staan was ek baie hartseer - died in his tent at Rooiputs, distr. Gordonia BB" (32jr 4 mde) - en binne die volgende jaar ook oumagrootjie en twee kinders. So was ek vandag weer aangeraak om daar te staan met die SK van jou oupagrootjie se pa! Jou oupagrootjie se doopinskrywing: Reynier * 26 April 1834 ~ 5 Oktober 1834 seun van Anthonius van Rooi en Elsje Gloudina Visser. Jou grootjie was een van sewentien babatjies wat daardie dag op Clanwilliam gedoop is.

Sommer gou hierop volg SMS-inligting oor Anthonius se sterfkennis : MOOC 6/9/18 verw 3956 (SK) Anthony van Rooyen * Holland, ouers onbekend, beroep pauper, oorlewende eggenoot Elsje Sophia SG Visser(dalk hoekom jou oupagrootjie se enigste dogter - die meisiekindjie op die foto - na haar ma vernoem is). Anthonius oorlede " at the place Zeekoe Vallei" op 5 November 1834. Kinders: Reynier * 1834; Gert Jacobus Frederik * 1838 (name afgekort Jac's Fred'k). Left no property.

"n Arm jong weduwee sou weer gou trou. Vroue was skaars, vele het in kraam geserf. 'n Hele klemverskuiwing in die navorsing. Nou raak die stiefvader en die jaaroud boetie die verlore skakels. Was die stiefpa goed vir Reynier, die tenger knapie met die boud in die kniebroekie, boetie op die heup in 'n dor, woeste land, sy ma met net een rok, die aan haar lyf?


Prinse van Serendib - Deel 3

Wat is Patria (die geslagregister van 'n groep mense) anders as verhalende kultuur? Die ontvouende sage laat my skrywersbloed roer, dalk net so sterk sos diŤ van my genealoog, wat bieg dat sy gramme en slaapinboet. Sy takel vervolgens die Register of Permission to remain in theColony 1806-1838. VOC-dokumente waarvan die restourasie deurdie Nederlandse Regering geborg is. Dit lewer niks op nie. Maar 'n genealoog, so kom ek agter, gee nie moed op nie.

Stap vir stap voel ek geneentheid groei vir die nuwe stamvader.'n Amsterdamse klompedraer wat langs vuil grate in agterstrate speel? Ek versoek Martie: As hierdie die bloedspoor is - dan beteken dit daar is geen gaping nie, soos die gewaande een tussen grootjie en stamvader Cornelis nie. Dan is ons met een tree by die stamvader. Nou wil ek vra: behou hierdie voorsaat vir my, ek wil hom hÍ. Ek smaak hom. Ek dink ek is bietjieverlief op die klompje-mannikin.

Janet Melville wat takke aan die stamboom help gee, in haar sjarmante effens Engelse trant: Ek stel nogal belang in die van Rooyen wat dan nou ewe skielikhier uir pop, jy wil my sÍ dat geen ander Van Rooyen navorser het hom al voorheen gekry of gekry en net ignoreer. Klink bietjie vergesog, want sy kinders het tog kinders gehad.

Maar is logika ooit ter sprake? En watter jong kind ag sy stamboom belangrik?

Weer 'n swael in my handpalm:  Vandag in Argief ook in VC750 huweliksdatum gekry: Antonius van Rooy (van Amsterdam x Clanwilliam 6 Januarie 1833, Elsie Sophia Gloudina Jac Visser.

"Jislaaik, nou raak dit rof," laat weet familiegenoot JC Malan wat die grootjie en die geesdrif deel.

Dis laat-Vrydag toe ek hoor: Om 15:40 die volgende verw. op NAAIRS gekry - te laat om te trek. Moet wag tot volgende Donderdag. As dit hy is, dan was hy so drie jaar in die land toe hy met Elsie Sophia Gloudina Jac Visser trou. CO 3949 ref 74 Memorials received. Anthonius van Rooy. Permission to remain in the Colony. 1830.

Hier is dit....die allersleutel! Dit word 'n paar lang dae. Woensdagaand slaan ek Van Wyk Louw se gediggie na: Rooidag, wat bring jy, ek weet nie waarom voel ek so bly. My hart die klop, en dit voel vir my sowaar, vandag kom hy.

Volgens weerberigte doen die Kaap van Storms sy naam gestand toe Martie op die pelgrimsbesoek na die KAB vertrek. Dit word aand, 4 Augustus 2005, 28 dae na ons eerste kontak, toe sy op haar selfoon 'n miskol gee om aan te kondig dat sy e-pos stuur. Ek haas my om lyn oop te maak. Sy is gloeiend van voldoening:

Subject: van een navorscher-vrindin   Aan de achter-achter kleindochter van een klompjeman die varen de verre  seŽ.   Ik ben sopas veilich by de huijs aangekwam - gelukkich, honger en baje  Zal mettertyd weder schryven.

Aangeheg is die dokument, getranskribeer insoverre sy dit konontsyfer uit die dikke legger wat glo uitmekaarval:

To His Excelency The Goveneor Shewith

That Memorials arrived here from Java per Ship Neerlands Koning and is very desirous to remain here - & request that H.E. may be pleased to grant him permission for that purpose.

Memorialist is a native of the Netherlands, And obtained the master of the said Ships Consent, & two Securities for his good Conduct, wich he begs leave here into to Annex

And Memorialist    Cape Town 5 July 1830

De ondergeschrevne verleent hiermede vrijheid aan des Perssons Anthonius van Rooy om wanneer het Gouvernment zulks toestaat zich alhier te moogen vestigen.

Capt" van het Neerlandse fregatship Freeslandt Koning

The undersigned do hereby bind themselves as Securities for the good conduct of A. van Rooy should he obtain Persmission to remain in this Colony.

Cape Town  5 th July 1830

Nou weet ek dat Genealogie geen perke ken en geen sononderklousule het nie. Nou glo ek dat die res formaliteit is : om die stiefpa en die kleinboetie te vind. Om uit te vind oor Anthonius op die Neerlands Koning. Ek het intussen nageslaa: Die Java-opstand onder Bataafse bewind, het geduur van 1825-1830. Dalk was die skip wat juis toe die Kaap uit Java aandoen, vol gedemobliseerde soldate en amtenary? Volgens sy goeie handtekening is Anthonius geletterd. Het hy dalk in Verre Ooste die staatspen gehanteer in 'n hutkantoor van kadjanblare? Maar nou het hy niks en niemand om na terug te keer nie? En hoe mooi, hoe mooi lÍ die Kaap voorsy oŽ, met die baai 'n vleklose blou glasplaat en Tafelberg wat wagstaan. Of het hy reeds een of ander Oosterse koorssiekte onder lede, wat agt jaar later sy lewe sal eis? Hoeveel sal ons hier benede oor hom kan uitvind, en hoeveel sal eendag in die hemele geopenbaar moet word?

En grootoupa Reynier, afsetter van die hele onderneming, sit steeds daar met sy oŽ witterig na die kamera gekeer. Het hy, soms in die dor land waar hy sy tuiste en later sy grag vind, ook gewonder oor sy gestorwe vader? Het sy moeder vertel wat Vader haar alles vertel het van 'n lae land waar die see soos oerwaters teen die dyke beuk?

En wat, o wat laat my dink dat hulle nie almal ook prinse van Serendib as nie?

So kom dit dat ek laatmiddag op my 66ste die volgende SMS ontvang: Verjd8present: O/oumagroot 2VR & 8 Vermeulenkinders. Oorl 1871 Buti Bert teken SK. Gewoon plaas Witelskloof, distr. Clanw"am. 1 ste man Anthony, dan Vermeulen. Mooi d8

Naskrif: Nuwe inligting het sedert die skryf van hierdie artikel vanuit die familiekring oor hierdie stamvader na vore gekom wat weer tot verdere soektogte deur die koninkryk van Serendib sal lei! Dit was blykbaar bekend onder die ouer kleinkinders dat " ons nie hoort by gewone van Rooyens nie, maar dat Anthonius in Nederland gesteel is. Sy steel ouers het met hom uitgewyk en hom eers na die dood van sy biologiese ouers van sy herkoms vertel." - Martie du Toit


TuisbladBessingerFotosGenealogiePetzerBessingerFotosGenealogiePetzerSkakels
Alle inhoud is opgedateur en versamel deur Yvonne Nieuwoudt. Web blad ©2017 Yvonne Nieuwoudt
Web blad ontwerp en gehuisves deur Martin Nieuwoudt by Nieuw Solutions, LLC